Levitikus 27:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. ’n Man ouer as 60 is vyftien stukke silwer werd en ’n vrou ouer as 60 is tien stukke silwer werd.

8. As iemand so ’n gelofte gemaak, maar nie kan bekostig om die afkoopsom te betaal nie, moet hy die persoon saamvat na die priester toe. Hy sal dan die bedrag bepaal. Hy sal dan die bedrag wat die priester bepaal het, betaal.

9. “As jou gelofte gaan oor ’n rein dier, een wat aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here, dan word dit die Here se eiendom.

10. Die dier mag nooit geruil of vervang word met ’n ander een nie, nie ’n goeie vir ’n slegte dier nie en ook nie ’n slegte vir ’n goeie dier nie. As so ’n ruil wel gemaak word, word beide die oorspronklike en die dier wat geruil is, albei die Here se eiendom.

11. As jou gelofte gaan oor ’n onrein dier, een wat nie aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here nie, moet jy die dier na die priester toe bring.

12. Hy sal die waarde van die dier bepaal en sy beslissing is finaal.

13. As jy die dier wil loskoop, moet jy sy waarde soos deur die priester bepaal, plus twintig persent betaal.

14. “As jy ’n huis aan die Here wil wy, moet die priester kom om die waarde van die huis te bepaal. Die priester se beslissing sal finaal wees.

15. As jy die huis wil loskoop, moet jy die waarde soos bepaal deur die priester betaal plus twintig persent. Dan sal die huis weer aan jou behoort.

Levitikus 27