Levitikus 27:10-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Die dier mag nooit geruil of vervang word met ’n ander een nie, nie ’n goeie vir ’n slegte dier nie en ook nie ’n slegte vir ’n goeie dier nie. As so ’n ruil wel gemaak word, word beide die oorspronklike en die dier wat geruil is, albei die Here se eiendom.

11. As jou gelofte gaan oor ’n onrein dier, een wat nie aanvaarbaar is as ’n offer vir die Here nie, moet jy die dier na die priester toe bring.

12. Hy sal die waarde van die dier bepaal en sy beslissing is finaal.

13. As jy die dier wil loskoop, moet jy sy waarde soos deur die priester bepaal, plus twintig persent betaal.

14. “As jy ’n huis aan die Here wil wy, moet die priester kom om die waarde van die huis te bepaal. Die priester se beslissing sal finaal wees.

15. As jy die huis wil loskoop, moet jy die waarde soos bepaal deur die priester betaal plus twintig persent. Dan sal die huis weer aan jou behoort.

16. “As jy ’n stuk familiegrond aan die Here wil wy, word die waarde daarvan bepaal deur die hoeveelheid saad wat nodig is om dit te beplant. Vir elke 100 kilogram gars moet 50 stukke silwer gegee word.

17. As die grond aan die Here gewy word tydens die Jubeljaar, is die volledige loskoopwaarde van toepassing.

18. As die grond aan die Here gewy word in die jaar ná die Jubeljaar, moet die priester die waarde van die grond bepaal in verhouding tot die aantal jare tot die volgende Jubeljaar.

19. As jy besluit om die gewyde grond los te koop, moet jy die waarde van die grond soos bepaal deur die priester betaal, plus twintig persent.

Levitikus 27