8. Net vyf van julle sal 100 agtervolg en 100 van julle sal 10 000 agtervolg. Al julle vyande sal onder julle wapens tot ’n val kom.
9. “Ek sal julle my guns bewys, Ek sal julle baie laat word en Ek sal my verbond met julle nakom.
10. Julle sal so ’n surplus oesopbrengste hê dat julle van die vorige jaar se oes sal moet ontslae raak om plek te maak vir die nuwe oes.
11. Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie.
12. Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.
13. “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”
14. “As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie,
15. en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag,
16. sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet.
17. Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie!
18. “As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf.
19. Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons.
20. Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie.
21. “As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe.
22. Ek sal wilde diere op julle loslaat wat julle kinders sal vang en julle beestroppe sal vernietig. Julle getalle sal so afneem dat julle paaie verlate is.
23. “As julle nog nie ’n les geleer het uit hierdie dinge nie, en julle vyandigheid teen my voortsit,
24. sal Ek vyandig word teenoor julle. Ek sal julle persoonlik tref met nog sewe rampe vir julle sonde.
25. Ek sal leërs teen julle uitstuur om hierdie verbondsdreigemente uit te voer. As julle na julle stede toe vlug, sal Ek ’n plaag daar laat uitbreek om julle te vernietig en julle vyande sal julle oorwin.
26. Ek sal julle kosvoorrade so uitdun dat tien vroue net genoeg het vir een baksel. Julle kos sal volgens gewig gerantsoeneer word. Al is daar kos om te eet, sal dit nie genoeg wees om julle te versadig nie.