Levitikus 26:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Ek sal by julle woon en Ek sal My nie vir julle skaam nie.

12. Ek sal by julle wees, Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.

13. “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipte gebring het sodat julle nie langer meer slawe hoef te wees nie. Ek het die juk van slawerny van julle nekke afgehaal sodat julle vry kan wees en kop omhoog kan loop.”

14. “As julle egter nie na My luister of my gebooie gehoorsaam nie,

15. en as julle my verbond verbreek deur my reëls te verwerp en my regulasies te minag,

16. sal Ek die volgende met julle laat gebeur: Ek sal paniek onder julle saai. Julle sal aan siektes en koors ly, siektes wat julle blind sal maak en julle lewe laat wegkwyn. Julle sal tevergeefs graan plant, want julle vyande sal dit opeet.

17. Ek sal my rug vir julle draai en al julle vyande sal julle verslaan. Hulle sal oor julle heers en julle sal weghardloop al is daar niemand wat julle agtervolg nie!

18. “As julle ten spyte van al hierdie dinge nog steeds ongehoorsaam bly, sal Ek julle nog sewevoudig vir julle sonde straf.

19. Ek sal julle hardkoppige trotsheid breek deur die reën weg te hou: die lug bokant julle sal soos yster wees en die grond onder julle soos brons.

20. Al julle werk sal verniet wees, want daar sal geen oes op die lande of vrugte aan die bome wees nie.

21. “As julle nog steeds vyandig teenoor My bly en weier om gehoorsaam te wees, sal Ek julle tref met nog sewe rampe.

22. Ek sal wilde diere op julle loslaat wat julle kinders sal vang en julle beestroppe sal vernietig. Julle getalle sal so afneem dat julle paaie verlate is.

23. “As julle nog nie ’n les geleer het uit hierdie dinge nie, en julle vyandigheid teen my voortsit,

24. sal Ek vyandig word teenoor julle. Ek sal julle persoonlik tref met nog sewe rampe vir julle sonde.

Levitikus 26