Levitikus 14:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die priester sal ook van die dooie voël se bloed vat en sewe keer sprinkel oor die persoon wat gereinig moet word. Die priester sal dan die persoon rein verklaar. Aan die einde van die seremonie sal die priester die lewende voël vrylaat sodat dit in die oop veld kan wegvlieg.

8. “Die persone wat gereinig word, moet die reinigingseremonie voltooi deur hulle klere te was, al hulle hare af te skeer en in water te bad. Dan sal hulle rein wees en mag hulle weer na die kamp terugkeer. Hulle moet egter vir nog sewe dae buite hulle tente bly.

9. Op die sewende dag moet hulle weer al hulle hare afsny, insluitende die baard en wenkbroue. Dan moet hulle hulle klere was en ook in water bad. Dan sal hulle rein verklaar word.

10. “Die volgende dag, die agtste dag, moet elke persoon wat gesond geword het van die velsiekte, twee rammetjies en ’n jaaroud ooilam sonder enige liggaamsgebrek bring, saam met vyf liter uitgesoekte meel, gemeng met olyfolie en 300 milliliter olyfolie.

11. Die diensdoende priester sal die persoon saam met die offers in die teenwoordigheid van die Here bring om by die ingang van die tent van ontmoeting gereinig te word.

12. Die priester sal dan een van die lammers en die olyfolie neem en dit as ’n skuldoffer offer deur die offer in die teenwoordigheid van die Here op te lig.

13. Hy sal dan die lam slag in die heilige gebied waar die skuldoffers en die brandoffers geslag word. Net soos met die sonde-offer, sal die skuldoffer vir die priester gegee word. Dit is ’n baie heilige offer.

14. Die priester sal dan van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die persoon se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon smeer.

15. “Die priester sal van die olyfolie in die palm van sy eie linkerhand gooi.

16. Hy sal sy regtervinger in die olie druk en dit sewe keer in die teenwoordigheid van die Here sprinkel.

17. Die priester sal dan van die olie in sy linkerhand aan die regteroorlel, die regterduim en die regtergroottoon van die gesonde persoon smeer, bo-oor die bloed van die skuldoffer.

18. Die olie wat in die priester se hand oorbly, sal hy dan oor die kop van die gesonde persoon uitgooi. Op dié manier sal die priester versoening bring in die teenwoordigheid van die Here vir die persoon wat gereinig word.

19. “Die priester moet dan die sonde-offer bring en weer die versoeningseremonie herhaal vir die persoon wat gesond geword het van die velsiekte. Daarna sal die priester die hele brandoffer slag

Levitikus 14