Kolossense 2:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle lewe soos mense wat aan Hom verbonde is.

7. Bly in Christus geanker en bou op Hom, standvastig in die geloof soos julle ge­leer is, en loop oor van dankbaarheid.

8. Wees op julle hoede en laat niemand julle op sleep­tou neem met ’n leë, mis­lei­den­de filosofie wat wel rekening hou met menslike tradisie en met wêreldse magte, maar nie met Christus nie.

9. Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teen­woor­dig.

10. En omdat julle één is met Christus deel julle in sy volheid – Hy wat die hoof is van elke heerskappy en gesag.

11. Omdat julle één is met Christus is jul­le ook be­sny, nie met ’n besnydenis deur men­se nie, maar met die besnydenis van Christus. Hierdie besnydenis bestaan uit die wegneem van julle sondige geaardheid.

12. Toe julle gedoop is, is julle saam met Chris­tus begrawe. Omdat julle één is met Hom is julle ook saam met Hom opgewek. Julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak – hierdie selfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het!

13. Julle was eintlik dood omdat julle ge­sondig het en omdat julle sondige geaardheid nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Chris­tus lewendig gemaak. Hy het ons al ons sondes vergewe.

14. Hy het die do­kument met voorskrifte wat as klag­staat teen ons gedien het, uitgevee en dit vir goed weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.

15. So het Hy die re­geer­ders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik ge­maak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.

16. Moet dus nie toelaat dat enigie­mand julle ver­oor­deel oor wat julle eet of drink, of oor die vier van sekere fees­dae of die Nuwemaanfees of Sabbat­te nie.

17. Al hier­die dinge is net ’n skaduwee van wat sou kom. Die ware werklikheid is Chris­tus!

18. Laat niemand wat aandring op selfver­ne­de­ring en en­gel­verering – en dit met ’n be­roep op visioene! – julle op sleeptou neem nie. Verniet dink hierdie mense, ti­pies van hulle sondige geaardheid, baie van hulleself.

Kolossense 2