1. Josua het oud geword. Die Here het vir hom gesê: “Jy het aangestap in jare en baie van die land is nog oor om in besit geneem te word.
2. Die deel van die land wat oorbly, is al die gebiede van die Filistyne en van Gesur.
3. Die gebied van die spruit van Sigor af teen die grens met Egipte tot by die Ekrongebied in die noor-de is Kanaänitiese gebied. Dit is die gebiede van die vyf Filistynse regeerders van Gasa, Asdod, Askelon, Gat en Ekron. Daar is nog die gebied van die Awwiete in die suide.
4. “In die noorde is daar die hele Kanaänitiese gebied van Teman af, Meara, wat aan die Sidoniërs behoort, noord tot by Afek aan die Amoritiese grens.
5. Dan is daar die Gebalgebied en die hele Libanongebergte na die oostekant, van Baäl-Gad suid van Hermonberg af tot by Lebo-Hamat.
6. Al die bewoners van die Libanonberg af tot by Misrefot-Majim, al die Sidoniërs, sal Ek tussen die Israeliete uit verdryf. Sorg dat hierdie gebiede as erfgrond na Israel toe kom, soos Ek jou beveel het.”
7. Verdeel nou hierdie grond tussen die nege stamme en die halwe Manassestam.
8. Ruben en Gad se stamme het reeds saam met die ander helfte van die Manassestam hulle grond gekry. Dit het gebeur toe Moses dit vir hulle gegee het terwyl hulle aan die oorkant, oos van die Jordaan, was. Moses, die dienaar van die Here, het die volgende gebiede vir hulle gegee:
9. Van Aroër af op die oewer van die Arnonrivier, die stad teen die rivier, die hele vlakte van Madeba tot by Dibon,
10. al die stede van die Amoritiese koning Sihon wat vanuit Gesbon regeer het, tot teen die Ammonitiese grens,
11. Gilead met die gebiede van Gesur en Maäka, die hele Hermonberg en die hele Basan tot by Salka
12. en die hele koninkryk van Og in Basan wat vanuit Astarot en Edreï regeer het. Og was een van die laaste Refaïete. Moses het hulle verslaan en uitgedryf.
13. Die Israeliete het egter nie die mense van Gesur en Maäka uitgedryf nie. Hulle bly nou nog saam met die Israeliete.
14. Aan die stam van Levi het Moses nie hulle eie grond gegee nie. Hulle erfenis is die offers wat vir die Here, die God van Israel, gebring word. Dit is soos Hy hulle beloof het.