Josua 10:5-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Die vyf Amoritiese konings, dié van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, het toe hulle magte gekombineer. Hulle het gaan kamp opslaan by Gibeon om teen hom oorlog te maak.

6. Die Gibeoniete het vir Josua in die kamp by Gilgal laat weet: “Moenie nou u dienaars in die steek laat nie. Kom tog vinnig hiernatoe om ons te red. Kom help ons. Al die Amoritiese konings wat in die heuwelgebied bly, het teen ons saamgespan.”

7. Josua en al sy bekwame soldate het uit Gilgal opgeruk.

8. “Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie,” het die Here vir Josua gesê. “Ek gee hulle in jou mag oor. Nie een van hulle sal teen jou kan standhou nie.”

9. Nadat Josua die hele nag deur van Gilgal af getrek het, het hy ’n verrassingsaanval op die Amoriete geloods.

10. Die Here het hulle paniekbevange vir die Israeliete gemaak. Israel het hulle by Gibeon verpletterend verslaan. Hulle het die vyand teen die hoogte by Bet-Goron uitgedryf en hulle doodgemaak tot by Aseka en by Makkeda.

11. Terwyl die Amoriete nog aan die vlug was teen die hoogte uit na Bet-Goron toe, het die Here hulle al die pad van daar af tot by Aseka met groot haelstene uit die lug neergevel. Daar is baie meer dood van die hael as wat die Israeliete met die swaard doodgemaak het.

12. Op die dag dat die Here vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die Here om hulp gevra. Voor almal het hy by die Here gebid: “Laat die son tog stilstaan bo Gibeon. Laat die maan stilstaan oor die Ajalonlaagte!”

13. Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan in Die boek van die Opregte. Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie.

14. So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die Here het geluister na wat ’n mens vir Hom vra! Die Here het aan Israel se kant geveg.

15. Josua en almal saam met hom is toe terug na die kamp in Gilgal.

16. Die vyf konings het op die vlug geslaan. Hulle het in ’n grot in Makkeda gaan wegkruip.

17. Josua het berig gekry dat hulle ontdek is waar hulle in die grot van Makkeda wegkruip.

18. Hy het opdrag gegee: “Rol groot klippe voor die bek van die grot. Sit wagte daar om dit op te pas.

Josua 10