Johannes 9:7-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!

8. Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?”

9. Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.”Die man het toe self reageer: “Dit is ék!”

10. Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?”

11. Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!”

12. “Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra.“Ek weet nie,” het hy geantwoord.

13. Hulle het die man wat eers blind was na die Fariseërs toe geneem.

14. Dit was op ’n Sabbatdag dat Jesus die klei gemeng en dit op die man se oë geplak het.

15. Die Fariseërs het hom weer ’n keer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gaan was, en nou sien ek.”

16. Sommige Fariseërs het opgemerk: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Van die ander het egter gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?” Onder hulle het hewige verdeeldheid ontstaan.

17. Weer ’n keer sê hulle toe vir die blinde: “En wat sê jý oor hom? Hierdie man wat kwansuis jou oë oopgemaak het?”Hy het geantwoord: “Hy is ’n profeet.”

18. Die Joodse leiers het steeds nie geglo dat hy blind was en nou kon sien nie, totdat hulle die ouers van die man wat nou kon sien, geroep

19. en vir hulle gevra het: “Is hy julle seun van wie julle gesê het dat hy blind gebore is? Hoe het dit gebeur dat hy nou sien?”

Johannes 9