Johannes 3:17-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

17. God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

18. “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

19. Dít is die beslissende vonnis: die lig het na die mensewêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was boos.

20. Elkeen wat doen wat sleg is, haat die lig en kom nie na die lig toe nie sodat sy dade nie bekend word nie.

21. Elkeen wat egter die waarheid beoefen, kom na die lig toe sodat dit sigbaar word dat sy dade vanuit ’n noue verhouding met God gedoen is.”

22. Hierna het Jesus en sy dissipels na die Judea-gebied vertrek. Hy het daar saam met die dissipels oorgebly en mense gedoop.

23. Johannes was ook besig om by Enon, in die omgewing van Salim, te doop omdat daar genoeg water was. Die mense het daarheen gestroom en is gedoop.

24. Op daardie tydstip was Johannes nog nie in die tronk gegooi nie.

25. Daar het toe ’n meningsverskil oor reinigingsgebruike ontstaan tussen Johannes se dissipels en ’n Joodse man.

26. Hulle het na Johannes toe gekom en vir hom gesê: “Rabbi, die man wat aan die oorkant van die Jordaanrivier saam met u was, oor wie u getuig het, Hy doop ook en almal stroom na Hom toe.”

27. Johannes het daarop reageer: “’n Mens is nie in staat om iets te ontvang as dit nie vanuit die hemel aan hom gegee is nie.

28. Julle self is my getuies dat ek gesê het: ‘Ek is nie die Messias nie. Ek is maar net voor Hom uit gestuur.’

29. Dit is die bruidegom aan wie die bruid behoort; die vriend van die bruidegom gaan staan en luister of hy kom, en hy is sommer baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom loop ek nou oor van blydskap.

30. Hy moet in belangrikheid toeneem en ek moet afneem.

31. “Hy wat van bo kom, troon bo almal uit. Hy wat uit die aarde ontspring het, is deel van die aarde en praat as deel van die aarde. Hy wat uit die hemel kom, troon bo almal uit.

32. Wat Hy gesien en gehoor het, daaroor getuig Hy, maar niemand aanvaar sy getuienis nie.

Johannes 3