Johannes 19:13-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees ‘Gabbata’.

14. Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle Koning!”

15. Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?”Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.”

16. Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei.

17. Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”.

18. Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel.

19. Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.”

20. Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks.

21. Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die Koning van die Jode.’”

22. Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”

Johannes 19