Johannes 17:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Jesus het hierdie dinge gesê, en toe sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik.

2. U het aan die Seun volmag gegee oor die hele mensdom om aan almal wat U aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee.

3. En die inhoud van die ewige lewe is dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

4. Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U My gegee het om te doen.

5. Verheerlik My dan nou ook by Uself, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het nog voordat die wêreld bestaan het.

6. “Ek het u Naam bekendgemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle was U s’n en U het hulle aan My toevertrou en hulle het u boodskap gehoorsaam uitgevoer.

7. Hulle besef nou dat alles wat U My gegee het van U af kom,

8. want die woorde wat U My gegee het, het Ek net so aan hulle oorgedra. Hulle het dit aanvaar en besef dat Ek regtig van U af gekom het en hulle het vas geglo dat U My gestuur het.

9. Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is.

10. Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik.

Johannes 17