Johannes 10:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Toe het Jesus weer ’n keer gesê: “Ek verseker julle, Ek is die deur vir die skape.

8. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie op hulle reageer nie.

9. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy beslis verlos word. Hy sal ingaan en uitgaan en groen weiding kry.

10. Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ék het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, sodat hulle dit oorvloedig het.

11. “Ek is die Goeie Herder. Die Goeie Herder offer sy lewe op vir die skape.

12. ’n Kontrakwerker is hoegenaamd nie ’n herder nie, want dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien aankom, los hy die skape net daar en vlug weg en die wolf vang die skape en verwilder hulle.

13. Hy is ’n tipiese kontrakwerker en gee niks vir die skape om nie.

14. Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My,

15. net soos die Vader My ken en Ek ook die Vader ken. En Ek gee my lewe vir die skape.

16. Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.

17. “Om hierdie rede het die Vader My lief omdat Ek my lewe gee om dit weer op te neem.

Johannes 10