25. Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie
26. omdat julle nie van my skape is nie.
27. My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.
28. Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.
29. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.
30. Ek en die Vader is één.”
31. Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig.
32. Jesus het hulle geantwoord: “Ek het julle soveel goeie werke gewys wat van die Vader af kom. Op grond van watter een van hulle wil julle My nou stenig?”
33. Die Jode het Hom geantwoord: “Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat ’n mens is, doen jouself voor as God.”