Johannes 1:13-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.

14. En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

15. Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hy is die Een wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Hy wat ná my kom, het reeds voor my bestaan omdat Hy groter is as ek.’”

16. Uit sy volheid het ons almal ’n oorvloed genade ontvang.

17. Die wet is deur middel van Moses gegee; die genade en waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18. Niemand het God nog ooit gesien nie. Sy enigste Seun wat self ook God en baie na aan die Vader is, het Hom aan ons kom bekendmaak.

19. Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?”

20. Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.”

21. En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?”“Nee, ek is nie,” sê Johannes.“Is jy dan die profeet?”“Beslis nie!” het hy geantwoord.

22. Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?”

23. Sy reaksie was:“Ek is ’n stem wat roep in die woestyn:‘Maak die pad van die Herereguit.’”Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.

24. Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.

25. Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”

26. Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie.

27. Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”

Johannes 1