Jesaja 37:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. “Here, Almagtige, God van Israel, u troon is tussen die magtige gerubs! U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U alleen het die hemele en die aarde geskep.

17. Hoor tog, Here, luister tog! Open u oë, Here, en kyk! Luister hoe Sanherib die lewende God uitgetart het.

18. “Dit is so, Here, dat die konings van Assirië al hierdie nasies en hulle lande verwoes het, net soos die boodskap sê.

19. “Hulle het inderdaad die gode van hierdie nasies in die vuur gegooi en dit verbrand. Natuurlik kon die Assiriërs dit vernietig! Want dis nie gode nie, slegs beelde van hout en steen wat mense se hande gemaak het!

20. “Here ons God, red ons tog uit sy hand. Dan sal al die koninkryke van die aarde weet dat U alleen, Here, God is.”

21. Jesaja seun van Amos het toe hierdie boodskap na Hiskia gestuur: “So sê die Here, die God van Israel: Dis my antwoord op jou gebed oor koning Sanherib van Assirië.

22. Dit is die boodskap wat die Here oor Sanherib sê: “Die jong meisie van Sion sien neer op jou. Sy lag oor jou.Die dogter van Jerusalem spot, sy skud haar kop as jy weghardloop.

23. Vir wie dink jy het jy beledig en bespot? Teen wie het jy jou stem verhef? En na wie het jy ewe hoogmoedigneerhalend verwys?Dit was die Heilige van Israel!

24. Deur jou boodskappers het jy met die Here gespot.Jy het gesê: ‘Met my baie strydwaens het ek die hoogste berge oorwin,ja, selfs die hoogste pieke van die Libanon.Ek het sy hoogste seders en sy mooiste sipresse afgekap. Ek het tot in die verste uithoeke en die diepste woude gegaan.

Jesaja 37