15. Moenie dat Hiskia julle mislei om op die Here te vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons red! Hierdie stad sal nooit in die hande van die koning van Assirië beland nie.’
16. “Moenie na Hiskia luister nie! Hier is die voorwaardes wat die koning van Assirië bied: Maak vrede met my. Maak die hekke oop en kom uit. Dan sal ek toelaat dat elkeen van julle van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink,
17. totdat ek kom om julle na ’n ander land te neem nes julle land. Dit is ’n land met ryk oeste van graan en wyn, volop brood en wingerde, ’n land van oorvloed.
18. “Moenie dat Hiskia julle om die bos lei deur vir julle te sê: ‘Die Here sal ons red!’ nie. Het die gode van enige ander nasie al ooit hulle mense kon red van die koning van Assirië?
19. Wat het gebeur met die gode van Hamat en Arpad? En wat van die gode van Sefarwajim? Het hulle Samaria bevry uit my hand?
20. Watter god van enige nasie was al ooit in staat om sy volk te red uit die mag van die koning van Assirië? Noem net een! Wat laat julle dan dink dat die Here Jerusalem sal kan red!”
21. Maar die manne het stilgebly en niks geantwoord nie. Want die koning het die opdrag gegee: “Moet hulle nie antwoord nie.”
22. Daarna het Eljakim seun van Gilkija, die administrateur van die paleis, Sebna, die hof se sekretaris, en Joag seun van Asaf, die koninklike historikus, teruggegaan na Hiskia. Hulle het uit wanhoop hulle klere geskeur. Hulle het ingegaan om die koning te sien en hom vertel wat die Assiriese verteenwoordiger alles te sê gehad het.