10. Die koning van Babel het Sedekia se seuns voor hom doodgemaak asook al die ander leiers van Juda.
11. Sedekia se oë is uitgesteek en daarna is hy in kettings geboei en die koning van Babel het hom na Babel toe gebring. Daar is hy in die tronk gegooi, waar hy tot sy dood gebly het.
12. Op 17 Augustus, in die negentiende regeringsjaar van Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was kaptein van koning Nebukadnesar se lyfwag.
13. Hy het die tempel, die koning se paleis en al die huise in Jerusalem afgebrand. Hy het al die belangrikste geboue afgebrand.
14. Die Babiloniese leër wat saam met die kaptein van die lyfwag was, het al die mure rondom Jerusalem afgebreek.
15. Nebusaradan, kaptein van die Babiloniese koning se lyfwag, het toe van die armste mense na Babel weggevoer. Hy het ook die mense wat nog in die stad agtergebly het in ballingskap na Babel geneem, saam met al die vakmanne en mense wat na koning Nebukadnesar oorgeloop het.
16. Nebukadnesar het net die heel armste mense toegelaat om in die land agter te bly. Hulle moes die wingerde versorg en die landerye bewerk.
17. Die Babiloniërs het die koperpilare in die tempel afgebreek en ook die voetstukke waarop die koperwasbakke gestaan het. Hulle het dieselfde gedoen met die groot koperbad. Hulle het al hierdie koper na Babel toe weggedra.