Jeremia 44:5-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

5. Maar hulle wou nie luister of gehoor gee en ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir ander gode te brand.

6. Daarom het my woede oorgeborrel en gevlam teen die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net verlate bouvalle.

7. “En nou vra die Here, die Almagtige, die God van Israel, vir julle: Hoekom bring julle so ’n groot onheil oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie, nie enige man, vrou, kind of suigeling wat van Juda af kom nie. Niemand sal oorbly nie.

8. Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode, hier in Egipte waar julle kom woon het! In die proses vernietig julle julleself. Die volke van die wêreld sien julle as ’n vloek of spot met julle.

9. Het julle al klaar die kwaad vergeet wat julle voorouers gedoen het? Het julle vergeet van die slegte dinge wat die konings van Juda en hulle vroue gedoen het? En wat van die verkeerde goed wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het?

Jeremia 44