11. Nadat die Babiloniese leër teruggetrek het van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was,
12. het Jeremia van Jerusalem af weggegaan na die grondgebied van Benjamin. Hy wou die eiendom wat hy gekoop het, gaan besigtig.
13. Maar toe hy by die Benjaminpoort wou uitgaan, het ’n kaptein van die wagte met die naam Jirija hom gearresteer en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.
14. Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie die waarheid nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die amptenare toe gebring.
15. Die amptenare was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Hulle het sy huis in ’n tronk verander.
16. Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit waar hy ’n baie lang tyd gebly het.
17. Later het koning Sedekia Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou van hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my?”Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het! U sal in die mag van die koning van Babel beland.”
18. Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het?