Jeremia 37:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Sedekia was ’n seun van Josia. Koning Nebukadnesar van Babel het hom as koning oor Juda aangestel in die plek van Jojagin seun van Jojakim.

2. Nie Sedekia, sy amptenare of die gewone mense van die land het hulle gesteur aan wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het nie.

3. Tog het koning Sedekia vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia gestuur om te vra: “Bid namens ons tot die Here ons God.”

4. Jeremia was in dié tyd nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense.

5. Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek teen die Babiloniese leër wat Jerusalem omsingel het. Toe hulle hoor van die Egiptiese opmars, het die Babiloniërs van Jerusalem af teruggetrek.

6. Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee:

7. “Die Here, die God van Israel, sê: Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om uit te vind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help.

8. Dan sal die Babiloniërs terugkom en weer teen hierdie stad kom veg. Hulle sal die stad inneem en afbrand.

9. “Die Here sê: Moenie julleself bedrieg en sê: ‘Die Babiloniërs sal ons uitlos’ nie. Hulle sal nie!

10. Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, sal dit niks help nie. Hulle sal uit hulle tente strompel en hierdie stad aan die brand kom steek.”

11. Nadat die Babiloniese leër teruggetrek het van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was,

12. het Jeremia van Jerusalem af weggegaan na die grondgebied van Benjamin. Hy wou die eiendom wat hy gekoop het, gaan besigtig.

13. Maar toe hy by die Benjaminpoort wou uitgaan, het ’n kaptein van die wagte met die naam Jirija hom gearresteer en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.

14. Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie die waarheid nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die amptenare toe gebring.

Jeremia 37