Jeremia 34:15-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Toe julle onlangs besef dat dit verkeerd was, het julle reg gedoen en My gehoorsaam. Julle het julle eie mense vrygelaat en in my tempel ’n verbond met My gesluit.

16. Maar nou het julle julle woord verbreek. Julle het My beledig deur die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe te maak!”

17. Die Here sê: “Julle het My nie gehoorsaam nie. Julle wou nie julle eie mense vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vrylaat – om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en hongersnood. As die nasies van die wêreld julle toestand sien, sal dit hulle met afgryse vervul.

18. As twee partye ’n verbond sluit, sny hulle ’n kalf in twee dele. Daarna loop die twee partye tussen die dele deur om dit amptelik te maak. So sal Ek met elkeen maak wat die verbond met My verbreek het.

19. Dieselfde sal gebeur met die amptenare van Juda en Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en die gewone mense wat tussen die dele van die kalf deurgeloop het.

20. Ek sal julle aan julle vyande oorgee. Hulle sal julle doodmaak. Julle lyke sal kos vir die roofvoëls en die wilde diere wees.

21. “Die leër van die koning van Babel het alreeds van julle af teruggetrek. Maar al is dit so, sal Ek koning Sedekia van Juda en sy amptenare aan hulle vyande oorgee. Hulle wil julle graag dood sien.

22. Ek sal die Babiloniese leër opdrag gee om na Jerusalem toe terug te keer. Hulle sal weer teen die stad baklei. Hulle sal die stad inval en aan die brand steek. “Verder sal Ek sorg dat al die dorpe van Juda soos ’n eensame en verlate plek is waar niemand meer bly nie. Ek, die Here, sê dat dit so sal gebeur!”

Jeremia 34