Jeremia 19:7-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Hier sal Ek Juda en Jerusalem se oorlogsplanne dwarsboom. Ek sal toelaat dat julle vyande julle met geweld doodmaak. Die vyand sal julle lyke vir aasvoëls en wilde diere los om te verslind.

8. Ek sal hierdie stad só verwoes laat dat mense na hulle asems sal snak. Mense wat verbyloop, sal geskok wees en van verbasing fluit oor die slagting.

9. Hulle vyande en die mense wat hulle wil doodmaak, sal hulle beleër tot al die kos op is. Dan sal die mense wat in die stad vasgekeer is, hulle seuns, dogters en vriende weens honger begin eet. Hulle sal tot wanhoop gedryf word.’

10. “Jeremia, breek nou die kleipot voor die oë van die mense wat saam met jou gekom het.

11. Sê vir hulle: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Soos hierdie kleipot hier voor julle in skerwe lê, so sal Ek met hierdie stad en sy inwoners maak. Hulle sal soos hierdie kleipot wees wat ’n mens nie weer kan heelmaak nie. Hulle sal die lyke van die mense in Tofet begrawe omdat daar nêrens anders meer plek sal wees nie.

12. Dit is wat Ek met hierdie stad en sy inwoners sal doen, sê die Here. Ek sal hierdie stad soos Tofet maak.

13. “‘Die inwoners van Jerusalem het op die dakke van hulle huise wierook gebrand vir die sterregode. Hulle het ook vir ander gode drankoffers uitgegooi. Omdat hulle dit gedoen het, sal al die huise van die inwoners van Jerusalem en die paleise van die konings van Juda so onrein word soos Tofet.’”

14. Nadat Jeremia by Tofet geprofeteer het soos die Here gesê het hy moes, het hy na die stad toe teruggegaan. Hy het in die voorhof van die tempel gaan staan en vir almal wat daar was, gesê:

15. “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Soos Ek beloof het, sal Ek rampe bring oor hierdie stad en al die dorpe wat in die omgewing van die stad is. Ek doen dit omdat julle so hardkoppig is en weier om na My te luister.’”

Jeremia 19