Jakobus 5:3-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Julle goud en silwer sal beslis oproes. Hierdie einste roes sal soos vuur julle vleis wegvreet. Só sal die goud en silwer wat julle opgegaar het, op die oordeelsdag teen julle getuig.

4. Kyk, die betaling van die arbeiders wat julle lande afgeoes het en wat julle van hulle teruggehou het, skree teen julle. En die krete van dié wat geoes het, het die oë van die Here die Almagtige bereik.

5. Hier op aarde het julle luuks en in weelde geleef, en na hartelus elke behoefte bevredig. Julle harte is mooi vetgemaak, net reg vir die slagdag.

6. Julle het goeie mense veroordeel en vermoor, en hulle kon hulle nie teen julle verdedig nie.

7. Wees dan geduldig, broers en susters, totdat die Here weer hier is. Dink net hoe ’n boer uitkyk vir die herfs- en lentereën. Hy wag geduldig vir die kosbare oes wat die land oplewer.

8. Net so moet julle geduldig wees. En skep moed, want die koms van die Here is naby.

9. Moenie oor mekaar kla nie, broers en susters, anders sal God oor julle oordeel. Kyk, die Groot Regter kom. Hy staan al voor die deur!

10. Broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het as ’n voorbeeld van geduld in swaarkry.

11. Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde.

12. My broers en susters, die belangrikste is dat julle nie moet sweer nie – nie by die hemel nie, nie by die aarde nie, nie by enigiets anders nie. Sê net “ja” of “nee”, en bedoel dit. Dan sal julle nie veroordeel word nie.

13. Is daar van julle wat swaarkry? Dan moet julle aanhou bid daaroor. En dié wat opgeruimd is, moenie ophou lofliedere sing nie.

14. Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.

Jakobus 5