Hosea 13:4-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. “Ek is die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte gered het. Jy het geen ander God as Ek nie, want daar is geen ander redder nie.

5. Dis Ek wat jou in die woestyn, in daardie dor land, versorg het.

6. By goeie weiding aangekom, het hulle hulle dik geëet. Toe hulle genoeg geëet het, het hulle hoogmoedig geword en van My vergeet.

7. Nou word Ek vir hulle soos ’n leeu, soos ’n luiperd wat langs die pad ’n prooi voorlê.

8. Ek sal hulle aanval soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Ek sal hulle oopskeur en verslind soos ’n honger leeu. Wilde diere sal hulle uitmekaarskeur.

9. “Ek het jou verwoes, o Israel. Wie sal jou nou kan help?

10. Waar is jou koning dat hy jou kan red in al jou stede? Waar is jou leiers van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en leiers’?

11. In my toorn het Ek vir jou ’n koning gegee; en in my woede het Ek hom weggeneem.

12. “Die sondes van Efraim is opgeteken, sy oortredings is neergeskryf.

13. Toe die tyd vir geboorte aanbreek, was hy dwaas, ’n baba wat nie gebore wou word nie.

14. Moet Ek hulle loskoop uit die doderyk? Moet Ek hulle red uit die dood? O dood, bring maar jou verskrikking! O doderyk, bring maar jou plae! Ek sal beslis nie medelye hê nie!

15. Efraim floreer tussen die riete, maar die oostewind, ’n rukwind van die Here, sal uit die woestyn kom. Dit sal hulle waterbronne verdroog en hulle lopende fonteine laat opdroog. Al hulle skatte en waardevolle besittings sal geplunder word.”

Hosea 13