8. Saulus het van die grond af opgestaan en alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle is Damaskus in terwyl sy reisgenote hom aan die hand lei.
9. Hy was drie dae lank daar sonder om te sien, en hy het ook niks geëet of gedrink nie.
10. Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!”“Ja, Here!” het hy geantwoord.
11. Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Want kyk, hy is besig om te bid.
12. Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.”
13. Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het!
14. En ons hoor hy het ’n mandaat van die priesterhoofde om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.”
15. Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel.
16. Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly.”
17. Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.”
18. Onmiddellik het iets soos skille van Saulus se oë afgeval en hy kon weer sien. Hy het opgestaan en is gedoop.
19. Hy het toe kos geëet en sy kragte begin herwin.Saulus het ’n paar dae by die gelowiges in Damaskus gebly.
20. Hy het Jesus dadelik in die sinagoges begin verkondig – dat Hy die Seun van God is.
21. Almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie dié man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem getreiter het nie? Dis mos presies waarvoor hy hierheen gekom het: om hulle geboei voor die priesterhoofde te bring!”
22. Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en het die Damaskus-Jode in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is.
23. Na etlike dae het dié Jode saamgesweer om Saulus te vermoor.
24. Hulle komplot het egter aan Saulus uitgelek. Dag en nag het hulle die stad se poorte dopgehou om hom te vermoor.
25. Maar sy volgelinge het hom in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak.