Handelinge 25:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Maar Festus wou iets vir die Jode doen en sê toe vir Paulus: “Wil jy opgaan Jerusalem toe en dáár voor my oor hierdie dinge verhoor word?”

10. Paulus antwoord hom: “Nee! Voor die keiserlike regbank staan ek tereg. Dít is waar ek verhoor moet word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed.

11. As ek skuldig is en dinge gedoen het wat die dood verdien, probeer ek die dood nie ontduik nie. Aangesien alles waarvan hulle my beskuldig egter blote versinsels is, kan niemand my sommer maar net aan hulle uitlewer nie. Ek appelleer na die keiser!”

12. Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: “Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!”

13. ’n Paar dae later het koning Agrippa en Bernice in Sesarea aangekom om Festus te verwelkom.

14. Hulle het ’n hele paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak met die koning bespreek: “Hier is ’n gevangene wie se verhoor Feliks ná sy vertrek aan my oorgelaat het.

15. By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode my oor hom ingelig en van my ’n skuldigbevinding teen hom gevra.

16. Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om iemand sommer net as guns uit te lewer nie. Die beskuldigde moet eers geleentheid kry om homself persoonlik in die teenwoordigheid van sy aanklaers te verdedig.

17. “Toe hulle vir die verhoor hierheen gekom het, het ek dus geen tyd gemors nie en die volgende dag die hofsitting gereël en die man laat haal.

18. Sy aanklaers het om hom gestaan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ék verwag het nie.

19. Hulle het dit gehad oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe.

20. Ék het geen idee gehad hoe om hierdie tipe saak te ondersoek nie, en het hom daarom gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word.

Handelinge 25