12. ’n Man met die naam Ananias het daar gebly. Hy het nougeset volgens die Joodse wet gelewe, en by al die Jode dáár ’n goeie naam gehad.
13. Hy het na my toe gekom, by my kom staan en vir my gesê: ‘Saul, broer, sién weer!’ En oombliklik is my sig herstel en het ek hom gesien!
14. “Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, en om die Regverdige te sien en Hom te hoor praat.
15. Jy sal inderdaad vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.
16. En nou, waarom nog wag? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas. Jy het mos sy Naam aangeroep.’
17. “Ek is terug Jerusalem toe, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek ’n buitengewone geestelike ervaring gehad.
18. Ek het die Here gesien en Hy het vir my gesê: ‘Maak gou! Gee dadelik pad uit Jerusalem. Hierdie mense sal verseker nie jou getuienis oor My aanvaar nie.’
19. “Toe het ék teëgestribbel: ‘Maar, Here, hulle weet dat ék die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, gearresteer en laat slaan het.
20. En toe u getuie Stefanus vermoor is, het ek self hulle ondersteun. Ek het sy moordenaars se klere opgepas!’
21. Toe sê die Here vir my: ‘Gáán! Ék wil jou ver weg stuur, na die nie-Joodse nasies toe.’”
22. Die skare het na hom geluister tot op hierdie punt, en toe het hulle uit een mond begin skreeu: “Weg van die aarde af met so ’n vent! Só iemand behoort verseker nie te bly lewe nie!”
23. Hulle het aanhou skreeu, hulle bo-klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi.
24. Die offisier oor duisend man het Paulus toe die kaserne laat inbring en bevel gegee dat hy gegésel moes word om hom sy misdaad te laat bely. Die offisier wou agterkom hoekom die skare Paulus so uitgejou het.
25. Hulle het hom klaar met rieme vasgebind gehad vir die géseling toe Paulus vir die offisier oor honderd man wat daar naby staan, vra: “Is dit wettig dat julle ’n Romeinse burger gésel, en boonop nog sonder verhoor?”
26. Die offisier oor honderd man gaan toe na die offisier oor duisend man en vra: “Wat is u van plan om te doen? U moet besef hierdie man is ’n Romeinse burger!”