Handelinge 22:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. “Geagte broers en vaders, luister na my verdediging teenoor julle oor hierdie saak.”

2. Toe hulle hoor dat hy hulle in Aramees toespreek, het hulle nog stiller geword.

3. Hy gaan toe voort: “Ek is ’n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, en hier in Jerusalem het ek grootgeword en my opvoeding by Gamaliël gekry. Aan sy voete het ek geleer om ons Joodse wet streng na te kom. Ek het ’n kampvegter vir God geword, net soos julle almal vandag is.

4. Ek het jag gemaak op “Die Pad” tot die dood toe. Mans én vroue het ek gearresteer en in tronke laat stop.

5. “Só kan selfs die hoofpriester vir my getuig, en die hele Joodse Raad. Van hulle het ek selfs briewe aan ons volksgenote in Damaskus gekry om ook dáár hierdie mense te gaan arresteer en vir strafoplegging Jerusalem toe te bring.

6. “Juis toe ek op pad was, sommer naby Damaskus, het daar teen die middag skielik ’n sterk lig uit die hemel om my gestraal.

7. Ek het op die grond neergeval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’

8. ‘Wie is U, Meneer?’ het ek gereageer. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir Mý wat jy vervolg.’

9. Die mense saam met my het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my praat nie.

10. Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan Damaskus binne, en dáár sal alles wat God bepaal het dat jy moet doen, aan jou meegedeel word.’

11. “Ek is deur my reisgenote Damaskus aan die hand binnegelei, want die helder lig het gemaak dat ek niks kon sien nie.

12. ’n Man met die naam Ananias het daar gebly. Hy het nougeset volgens die Joodse wet gelewe, en by al die Jode dáár ’n goeie naam gehad.

Handelinge 22