6. Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ’n paar ander gelowiges na die stadsowerhede en skreeu: “Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad.
7. Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle is almal skuldig aan verraad teen die keiser, want hulle erken ’n ander koning, naamlik Jesus!”
8. Die skare en die stadsowerhede was ontsteld toe hulle dit hoor.
9. Hulle het hulle egter laat gaan nadat hulle van Jason en die ander gelowiges voldoende borg gekry het.
10. Toe dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Jode se sinagoge gegaan.
11. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika, en hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê.
12. Baie van hulle het gevolglik gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, sowel vooraanstaande vroue as mans.
13. Toe die Jode van Tessalonika egter hoor dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig word, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die skares opgesweep.
14. Die gelowiges het Paulus dadelik weggestuur kus toe, maar Silas en Timoteus het agtergebly.
15. Paulus se begeleiers het hom tot in Atene vergesel. Toe het hulle teruggegaan met ’n opdrag aan Silas en Timoteus om so gou moontlik by Paulus aan te sluit.
16. Terwyl Paulus in Atene vir hulle wag, het hy diep verontwaardig geword toe hy agterkom die stad is so vol afgodsbeelde.
17. Hy het in die sinagoge geredeneer met die Jode en dié wat die ware God aanbid het, en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat.