14. Die gelowiges het Paulus dadelik weggestuur kus toe, maar Silas en Timoteus het agtergebly.
15. Paulus se begeleiers het hom tot in Atene vergesel. Toe het hulle teruggegaan met ’n opdrag aan Silas en Timoteus om so gou moontlik by Paulus aan te sluit.
16. Terwyl Paulus in Atene vir hulle wag, het hy diep verontwaardig geword toe hy agterkom die stad is so vol afgodsbeelde.
17. Hy het in die sinagoge geredeneer met die Jode en dié wat die ware God aanbid het, en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat.
18. ’n Paar filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gedebatteer. Toe Paulus oor Jesus en sy opstanding praat, het party gesê: “Wat sou hierdie kletskous tog wil sê?” Ander het gesê: “Hy klink na vreemde gode se boodskapper.”
19. Hulle het hom na die Areopagusraad toe gevat en gesê: “Ons wil graag meer weet oor hierdie nuwe leer wat deur jou verkondig word.
20. Dis regtig vreemde dinge wat ons hoor; ons wil graag weet wat dit beteken.”
21. (Al die Ateners en die uitlanders in Atene het feitlik al hulle tyd aan die bespreking van nuwe idees bestee.)
22. Paulus het toe in die middel van die Areopagusraad stelling ingeneem en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte nogal regtig godsdienstig is.
23. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’ Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle.
24. “Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie.
25. Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee.
26. Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek.
27. “God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie.
28. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’