22. Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.”
23. Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan.
24. Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep.
25. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid.
26. Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!”
27. En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is.
28. Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie.
29. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.”
30. Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my.
31. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie!
32. Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’
33. So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.”
34. Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie.