9. “Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het my heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik hierheen!
10. Pa kan in die streek van Gosen woon sodat Pa naby my kan wees saam met Pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit.
11. Ek sal daar vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.’”
12. Josef sê verder: “Julle kan nou self sien, en ook my broer Benjamin kan sien, dit is regtig ek, julle broer Josef wat met julle praat!
13. Gaan vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik hiernatoe.”
14. Terwyl hy huil van vreugde, omhels hy vir Benjamin, wat ook begin huil het.
15. Daarna het Josef elkeen van sy broers omhels en by hulle gehuil. Toe eers het hulle met hom begin praat.
16. Die nuus het die farao baie gou bereik: “Josef se broers het gekom!” Die farao en sy amptenare was baie bly om dit te hoor.
17. Die farao sê vir Josef: “Sê vir jou broers om hulle donkies op te saal en terug te gaan na Kanaän toe
18. en julle pa en hulle gesinne na my toe te bring. Sê vir hulle: ‘Farao sal die beste deel van Egipte aan julle gee. Van die room van die land sal julle geniet!’
19. Verder beveel ek jou dat hulle waens uit Egipte moet saamvat om daarop hulle vroue en kinders en hulle pa hierheen te bring.
20. Julle moenie eers bekommerd wees oor die besittings wat julle agterlaat nie, want die beste van Egipte behoort aan julle.”
21. Jakob se seuns het toe so gemaak. Josef het waens aan hulle verskaf soos die farao beveel het. Hy het ook vir hulle genoeg voorrade vir die reis gegee.
22. Boonop het hy vir elkeen van hulle nuwe klere gegee. Benjamin het egter vyf stelle klere gekry en ook 300 stukke silwer.
23. Vir sy pa stuur hy tien donkies saam, gelaai met die beste ware uit Egipte, en tien donkiemerries wat met graan en allerlei kos gelaai was as padkos vir sy pa.
24. Hy het sy broers afgesien, en toe hulle vertrek, sê hy vir hulle: “Moenie langs die pad begin stry nie!”
25. Hulle is daar weg en het by hulle pa, Jakob, in die land Kanaän aangekom.
26. “Josef lewe nog!” sê hulle vir hom. “Hy is die heerser van die hele land Egipte!” Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie.
27. Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom.