Genesis 41:4-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe mooi vettes op! Toe het die farao wakker geskrik.

5. Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom. Hierdie keer sien hy sewe mooi vol are aan een stingel.

6. Daarna kom daar nog sewe are uit wat verskroei is deur die oostewind.

7. Die maer are sluk toe die sewe vet are in! Die farao het toe weer wakker geskrik en besef dit was ’n droom.

8. Die volgende oggend het die farao hom bekommer oor wat die drome sou beteken. Hy roep toe al die waarsêers en wyse manne van Egipte en vertel hulle van sy drome. Maar niemand kon die drome uitlê nie.

9. Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag word ek herinner aan die oortreding wat ek begaan het.

10. ’n Tyd gelede was u baie kwaad vir my en vir die hoof van die bakkers. U het ons toe in die tronk, in die huis van die hoof van die farao se lyfwag laat opsluit.

11. Een nag het ek en die bakker elkeen ’n droom gehad, elkeen met sy eie betekenis.

12. Ons het die drome vertel vir ’n Hebreeuse jong man wat in diens was van die hoof van Farao se lyfwag. Hy het dit vir ons uitgelê.

13. Alles het net so gebeur soos hy gesê het: Ek is in my pos as hoofskinker herstel, en die hoof van die bakkers is opgehang.”

14. Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn.

15. “Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.”

16. “Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.”

17. Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan.

Genesis 41