Genesis 38:24-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

24. Omtrent drie maande later hoor Juda dat Tamar, sy skoondogter, haar vir ’n prostituut uitgegee het en swanger geword het. “Bring haar uit en verbrand haar!” het Juda uitgeroep.

25. Toe hulle haar uitbring om haar te straf, stuur sy ’n boodskap aan haar skoonpa: “Die man aan wie hierdie seël, armband en kierie behoort, is die pa van my kind. Herken jy hulle?”

26. Juda het erken dat dit syne was en sê: “Ek is skuldiger as sy, want ek het nie my belofte nagekom om haar as vrou vir my seun Sela te gee nie.” Juda het daarna nie weer met Tamar gemeenskap gehad nie.

27. Toe die tyd van die bevalling kom, was dit ’n tweeling.

28. Tydens die geboorte het een sy hand uitgesteek. Die vroedvrou bind toe ’n rooi garingdraad om sy pols en sê: “Hierdie een is eerste.”

29. Maar toe trek hy sy hand terug en die ander baba word eerste gebore. “My wêreld!” roep die vroedvrou uit. “Kyk hoe het hy eerste deurgebreek!” Daarom was sy naam Peres.

30. Daarna is die baba met die rooi garingdraad om sy pols gebore. Hy is Serag genoem.

Genesis 38