9. Daarna het Josef nog ’n droom gehad en hy vertel dit weer aan sy broers. “Luister na hierdie droom,” sê hy. “Die son, maan en elf sterre het voor my kom neerbuig!”
10. Hierdie keer het hy dit vir sy pa en sy broers vertel. Sy pa het hom vermaan. “Watse soort goed droom jy?” het sy pa gevra. “Sal jou ma, jou broers en ek sowaar voor jou kom neerbuig?”
11. Maar terwyl sy broers jaloers was op Josef, het sy pa tog daaroor nagedink en gewonder wat dit alles sou beteken.
12. Kort hierna gaan Josef se broers om die vee in die omgewing van Sigem te laat wei.
13. Toe hulle vir ’n tyd lank weg was, sê Jakob vir Josef: “Jou broers is met die vee daar anderkant by Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”“Goed, Pa,” sê Josef.
14. “Gaan kyk hoe dit met jou broers en die vee gaan,” sê Jakob. “Kom dan terug en vertel vir my.” Jakob was in die vallei van Hebron toe hy hom gestuur het. Josef het gegaan en in Sigem aangekom.
15. Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy.
16. “Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?”
17. “Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry.
18. Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak.