13. Toe hulle vir ’n tyd lank weg was, sê Jakob vir Josef: “Jou broers is met die vee daar anderkant by Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”“Goed, Pa,” sê Josef.
14. “Gaan kyk hoe dit met jou broers en die vee gaan,” sê Jakob. “Kom dan terug en vertel vir my.” Jakob was in die vallei van Hebron toe hy hom gestuur het. Josef het gegaan en in Sigem aangekom.
15. Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy.
16. “Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?”
17. “Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry.
18. Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak.
19. “Hier kom daardie dromer!” het hulle uitgeroep.
20. “Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n diep put. Ons kan ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien wat word van sy drome!”