Genesis 33:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Toe kom Lea met haar kinders en buig ook voor hom. Laaste kom Ragel en Josef en doen dieselfde.

8. “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” vra Esau.“Dit is geskenke om u goeie guns te wen, my heer,” antwoord Jakob.

9. “My broer, ek besit self baie,” sê Esau. “Laat wat aan jou behoort, joune bly.”

10. “Nee, asseblief! Neem dit terwyl u my so goedgesind is,” sê Jakob. “Dis asof ek die glimlag van God sien.

11. Neem asseblief die geskenke, want God was baie goed vir my. Ek het meer as genoeg vir myself.” Jakob het só daarop aangedring dat hy dit moes neem, dat Esau dit uiteindelik aanvaar het.

12. “Nou moet ons gaan,” sê Esau. “Ek sal julle vergesel.”

13. Maar Jakob antwoord: “My broer, jy kan sien party van die kindertjies is baie jonk en die troppe vee het ook jong lammers en kalwers. As ons te vinnig trek, kan dit hulle dood beteken.

14. Gaan gerus voor ons uit. Ons sal op ons gemak trek en u by Seïr weer sien.”

15. “Goed,” sê Esau, “maar laat ek ’n paar van my manskappe agterlaat om julle te beskerm.”“Dis regtig nie nodig nie,” sê Jakob. “Jou goeie gesindheid is vir my genoeg.”

16. Esau is daardie dag nog terug Seïr toe.

17. Jakob en sy geselskap het verder getrek na Sukkot toe. Daar bou hy vir hom ’n huis en maak hy skuilings vir die troppe vee. Dis hoekom die plek Sukkot genoem is.

Genesis 33