26. “Wat het jy aangevang?” vra Laban. “Jy het my bedrieg en my dogters soos oorlogsbuit weggevoer.
27. Hoekom het jy in die geheim gevlug? Ek sou ’n afskeidsfees gereël het met vreugdevolle tamboeryne en liere.
28. Hoekom het jy nie toegelaat dat ek my dogters en kleinkinders groet nie? Jy het baie dwaas opgetree!
29. Ek kon jou doodgemaak het, maar die God van jou voorouers het aan my verskyn en vir my gesê: ‘Pas op wat jy vir Jakob sê!’
30. Ek kan nog verstaan as jy gegaan het omdat jy baie na jou ouerhuis verlang. Maar hoekom het jy dan my huisgode gesteel?”
31. “Ek is haastig daar weg omdat ek bang was,” antwoord Jakob. “Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal my doodmaak en sy dogters met geweld van my wegneem.’
32. Maar wat die huisgode betref, dié persoon by wie u dit kry, moet sterf! Ek sê voor ons familie: As julle enigiets kry wat aan Pa behoort, sal ek dit sonder teëpraat teruggee.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel die huisgode gevat het nie.
33. Laban het eers na Jakob se tent toe gegaan om daar te soek. Toe is hy na Lea s’n, en daarna het hy die tente van die twee slavinvroue deursoek, maar niks gekry nie. Toe gaan hy na Ragel se tent.
34. Sy het intussen die beeldjies onder die kameelsaal weggesteek en daarop gaan sit. Laban het ook haar tent deeglik deursoek, maar niks gekry nie.
35. “Verskoon my dat ek nie opstaan nie, Pa,” verduidelik sy. “Ek is siek van my maandstonde.” Laban het verder gesoek, maar kon nie die beeldjies kry nie.
36. Jakob het toe baie kwaad geword en met Laban getwis: “Wat is my oortreding? Pa het my agternagesit asof ek ’n misdadiger is.
37. Pa het alles wat ek besit, deursoek. Nou, wys my wat het Pa gekry wat aan u behoort! Sit dit hier voor ons familie neer sodat almal dit kan sien. Laat hulle dan besluit wie is reg!
38. “Twintig jaar lank was ek by Pa en al die tyd het ek u skape en bokke opgepas sodat hulle gereeld gelam het. In al die jare het ek nie één van u ramme vir my gevat om te eet nie.