34. “Dis goed,” sê Laban. “Laat dit wees soos jy voorgestel het.”
35. Daardie selfde dag nog het Laban veld toe gegaan en al die bokramme wat bont en gevlek is, al die ooie wat gevlek en bont is, alles met wit kolle en ook die swart skape uitgekeer. Hy het hierdie vee aan sy seuns gegee om op te pas.
36. Hy het hulle wég van Jakob af verskuif, drie dae se trek ver. Jakob self het agtergebly en Laban se vee opgepas.
37. Jakob het toe vars lote van populiere, amandels en plataanbome geneem en stroke van die bas afgetrek sodat daar wit strepe daarop was.
38. Toe sit hy die lote wat hy afgestroop het in die waterbakke waar Laban se vee kom drink het. Wanneer die ooie op hitte was en hulle kom drink, is hulle voor die lote gedek.
39. Wanneer hulle voor die wit-gestreepte lote gedek is, was al hulle lammers gestreep, bont en gevlek.