Genesis 30:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Ragel sê toe vir hom: “Gaan slaap by my slavin Bilha. Sy sal namens my vir jou ’n kind in die wêreld bring.”

4. So het Ragel Bilha as vrou vir Jakob gegee en Jakob het by haar gaan slaap.

5. Bilha het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun.

6. Ragel het hom Dan genoem, want, het sy gesê: “God het in my guns uitspraak gelewer. Hy het my versoek gehoor en vir my ’n seun gegee.”

7. Bilha het weer swanger geword en het aan ’n tweede seun geboorte gegee.

8. Ragel het hom Naftali genoem, want sy het gesê: “Ek is in ’n hewige stryd met my suster gewikkel, maar nou begin ek wen!”

9. Intussen het Lea besef dat sy nie meer swanger gaan word nie. Toe gee sy haar slavin Silpa as vrou vir Jakob.

10. Daarna het Silpa ook geboorte gegee aan ’n seun vir Jakob.

11. Lea het hom Gad genoem, want sy het gesê: “Hoe gelukkig is ek!”

12. Daarna het Silpa geboorte gegee aan ’n tweede seun.

13. Lea het hom Aser genoem, want sy het gesê: “Watter vreugde het my te beurt geval! Die ander vroue sal my sekerlik as gelukkig beskou!”

Genesis 30