Genesis 29:8-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. “Ons laat hulle nie drink voordat al die troppe en hulle skaapwagters hier is nie,” antwoord hulle. “Dan eers haal ons die klip van die put af.”

9. Terwyl hulle besig was om te praat, kom Ragel daar aan met haar pa se kleinvee wat sy opgepas het.

10. Toe Jakob sy niggie Ragel met haar pa se kleinvee sien, het hy na die put toe gegaan, die klip weggerol om sy oom se vee laat drink.

11. Daarna soen Jakob vir Ragel, terwyl die trane oor sy wange loop.

12. Hy verduidelik toe vir Ragel dat hy haar neef is, die seun van haar tante Rebekka. Ragel hardloop toe vinnig en gaan vertel dit vir haar pa Laban.

13. Toe Laban van Jakob hoor, het hy haastig uitgekom om hom te ontmoet. Hy het hom omhels en gesoen. Laban het hom saamgevat huis toe waar Jakob sy verhaal aan hom vertel het.

14. “Dink net,” roep Laban uit. “Jy is my eie bloedfamilie!”Na hy ongeveer ’n maand lank by hom gebly het,

15. sê Laban vir hom: “Jy hoef darem nie verniet vir my te werk net omdat ons familie is nie. Wat wil jy as betaling hê?”

16. Laban het twee dogters gehad. Lea was die oudste en Ragel die jongste.

17. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was baie aantreklik en het ’n pragtige figuur gehad.

18. Jakob was verlief op Ragel. Daarom sê hy: “Ek sal sewe jaar werk om Ragel, die jongste dogter, as vrou te kry.”

19. “Afgespreek!” sê Laban. “Ek sal haar eerder vir jou gee as vir iemand buite die familiekring. Bly by ons.”

20. Jakob het toe sewe jaar gewerk om Ragel as vrou te kry. Maar hy het haar so liefgehad dat dit vir hom soos ’n paar dae was.

Genesis 29