Genesis 28:13-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Die Here het aan die bokant van die leer gestaan en vir hom gesê: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak. Die grond waarop jy lê, gee Ek vir jou en jou nageslag.

14. Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde. Hulle sal versprei na die ooste en die weste, en na die noorde en die suide. Al die mense op aarde sal deur middel van jou nageslag geseën word.

15. Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou weer terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.”

16. Toe Jakob wakker word, sê hy: “Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!”

17. Hy was egter ook bang en het gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek! Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!”

18. Die volgende oggend staan hy vroeg op. Hy neem die klip by sy kop en sit dit regop as ’n gedenkteken. Daarna gooi hy olie daarop uit.

19. Hy noem die plek toe Bet-El, “huis van God”. Die dorp daar naby was voorheen bekend as Lus.

Genesis 28