Genesis 27:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Isak baie oud was en blind begin word het, roep hy Esau, die oudste seun, en sê: “My seun.”“Hier is ek,” antwoord Esau.

2. “Ek is reeds ’n ou man,” sê Isak. “Ek kan enige dag sterf.

3. Vat jou boog en pylkoker, gaan veld toe en skiet vir my ’n wildsbok.

4. Maak die vleis gaar soos ek daarvan hou en bring dit vir my om te eet. Dan sal ek jou seën voordat ek sterf.”

5. Maar Rebekka het die gesprek gehoor. Toe Esau uitgaan om te gaan jag,

6. sê sy vir haar seun Jakob: “Ek het gehoor jou pa vra vir Esau

7. om wildsvleis te kry en gaar te maak soos hy daarvan hou. Hy wil Esau seën in die teenwoordigheid van die Here voordat hy sterf.

8. Nou, my seun, luister na my en doen presies soos ek sê.

9. Gaan na die vee toe en bring vir my twee vet bokkies. Dan maak ek hulle gaar soos jou pa daarvan hou.

10. Dan neem jy dit vir hom sodat hy dit kan eet en jóú kan seën voor hy sterf.”

11. “Maar, Ma!” antwoord Jakob. “My broer Esau is harig en my vel is glad!

12. Wat sal gebeur as Pa aan my vat? Hy sal weet dat ek besig is om hom te bedrieg. Dan sal hy my vervloek pleks van seën.”

13. “Laat die vloek dan op my neerkom, my seun,” sê Rebekka. “Maak nou soos ek sê en gaan haal die bokkies.”

14. Jakob het sy ma se opdragte uitgevoer en die twee bokkies gebring. Sy het hulle gevat en ’n heerlike vleisgereg klaargemaak, net soos Isak daarvan hou.

15. Toe vat sy Esau se beste klere in die huis, en laat Jakob dit aantrek.

16. Van die harige vel van die bokkies draai sy om sy arms en om sy nek.

Genesis 27