14. Hy het groot troppe kleinvee en beeste gehad en baie slawe. Die Filistyne het daaroor jaloers geword op hom.
15. Hulle het Isak se putte met grond toegegooi. Dit was putte wat sy pa, Abraham, se slawe nog in sy tyd gegrawe het.
16. Abimelek sê toe vir Isak: “Gaan weg van ons, want jy het sterker as ons geword!”
17. Daarom het Isak na Gerarlaagte verskuif en daar gaan woon.
18. Hy het die putte wat sy pa gegrawe het, maar wat die Filistyne ná Abraham se dood toegegooi het, weer oopgegrawe. Isak het dieselfde name vir die putte gegee as wat Abraham vir hulle gegee het.
19. Sy skaapwagters het ook in Gerarlaagte gegrawe en ’n sterk fontein gekry.
20. Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. “Dis ons water,” het hulle gesê en met Isak se skaapwagters rusie gemaak. Isak noem toe die put Esek omdat hulle daaroor rusie gemaak het.
21. Isak se mense het toe ’n ander put gegrawe, maar die Filistyne het ook daaroor beswaar gemaak. Isak noem dit toe Sitna.