Genesis 25:6-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

6. Voor sy dood het hy geskenke vir die seuns van sy byvroue gegee en hulle ooswaarts, wég van Isak af, na die land Kedem toe gestuur.

7. Abraham het 175 jaar oud geword.

8. Hy het op ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf.

9. Sy seuns Isak en Ismael het hom in die grot van Makpela begrawe. Dit is naby Mamre en op die grond van Efron, seun van Sogar, die Hetiet.

10. Dit is die stuk grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het en waar hy sy vrou Sara begrawe het.

11. Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het by Lagai-Roï-fontein in die Negev gaan woon.

12. Nou volg die stamboom van die nageslag van Ismael, die seun van Abraham en Hagar, Sara se Egiptiese slavin.

13. Dit is die name van die seuns en die familiegroepe van Ismael se nageslag. Die oudste seun was Nebajot, gevolg deur Kedar, Adbeël, Mibsam,

14. Misma, Duma, Massa,

15. Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.

16. Hierdie is die seuns van Ismael en ook die name van hulle nedersettings en blyplekke – twaalf heersers van die stamme wat na hulle vernoem is.

17. Ismael was 137 jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is.

18. Ismael se nageslag was oor die land versprei vanaf Gawila tot by Sur, oos van Egipte, in die rigting van Assur. Die familiegroepe het in konflik met mekaar gelewe.

Genesis 25