14. Misma, Duma, Massa,
15. Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
16. Hierdie is die seuns van Ismael en ook die name van hulle nedersettings en blyplekke – twaalf heersers van die stamme wat na hulle vernoem is.
17. Ismael was 137 jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is.
18. Ismael se nageslag was oor die land versprei vanaf Gawila tot by Sur, oos van Egipte, in die rigting van Assur. Die familiegroepe het in konflik met mekaar gelewe.
19. Nou volg die besonderhede van die nageslag van Isak, die seun van Abraham.
20. Isak was 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het. Sy was die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van die Arameër Laban.
21. Rebekka was kinderloos. Daarom het Isak by die Here gepleit vir ’n kind. Die Here het sy gebed verhoor en sy vrou het swanger geword.
22. Die twee kinders het in haar teen mekaar gestamp. Sy het gewonder: “Hoekom gebeur so iets met my?” Sy raadpleeg toe die Here.
23. Die Here antwoord haar: “Die twee seuns wat jy verwag, sal twee nasies word wat teen mekaar wedywer. Die een sal sterker wees as die ander. Die nageslag van die oudste sal die nageslag van die jongste dien.”
24. Toe die tyd aanbreek, is die tweeling gebore.