42. “Vanmiddag, toe ek by die fontein aankom, het ek so gebid: ‘O Here, God van my meester Abraham, laat my tog asseblief slaag.
43. Hier staan ek nou by die fontein. Ek sal vir ’n meisie wat kom water haal, vra: ‘Gee my asseblief water om te drink!’
44. As sy vir my sê: ‘Sekerlik, drink gerus, en ek sal sommer vir jou kamele ook water gee!’ – Here, laat sý die een wees wat U bestem het as vrou vir die seun van my meester.’
45. “Ek het skaars so saggies klaar gebid, of ek sien Rebekka aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Sy het afgegaan na die fontein toe en haar kruik vol gemaak. Ek sê toe vir haar: ‘Gee asseblief vir my water om te drink.’
46. Sy het dadelik die kruik van haar skouer laat afsak sodat ek kon drink en gesê: ‘Sekerlik, Meneer, en ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Dit het sy gedoen.
47. “Toe ek haar vra wie se dogter sy is, het sy gesê: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en sy vrou Milka.’ Dis toe dat ek haar die neusring en armbande gegee het.
48. “Ek het gebuig en die Here aanbid. Ek het die Here, die God van my meester Abraham, geloof omdat Hy my op die regte pad gelei het sodat ek ’n vrou uit die familie van my meester se bloedverwante kon kry.
49. Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.”
50. Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die Here af. Wat kan ons dan sê?
51. Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die Here bepaal het.”
52. Toe hy dit hoor, het Abraham se slaaf laag afgebuig en die Here aanbid.