10. Maar die twee engele het hulle arms uitgesteek, Lot ingetrek en die deur gegrendel.
11. Toe het hulle al die mans van Sodom buite die huis verblind sodat hulle die deur nie kon kry nie.
12. “Het jy enige ander bloedverwante hier in die stad?” vra die engele. “Kry hulle uit hierdie plek uit, of dit nou skoonseuns, seuns, dogters of wie ook al is.
13. Ons gaan hierdie plek heeltemal verwoes omdat die mense so sondig is. Daarom het die Here ons gestuur om die plek te verwoes.”
14. Lot is toe vinnig na sy dogters se aanstaande mans om hulle te vertel: “Maak gou, gaan uit die stad uit! Die Here gaan dit verwoes!” Maar die jong mans het gedink hy maak ’n grap.
15. Teen dagbreek die volgende dag het die engele by hulle aangedring: “Maak gou! Neem jou vrou en twee dogters wat by jou is uit hierdie plek, anders sal die verwoesting van die stad julle ook tref.”
16. Toe Lot nog talm, gryp die engele sy hand en dié van sy vrou en twee dogters, en lei hulle haastig uit die stad uit, want die Here was hulle genadig.
17. Buite die stad waarsku een van die engele: “Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte gaan stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.”