17. Die ander mense wat skynbaar so baie ywer vir julle het, het nie goeie bedoelings nie. Hulle wil ’n wig tussen ons indryf sodat julle julle vir hulle saak sal beywer.
18. Dit is goed om jou vir ’n goeie saak te beywer. Maar doen dit dan altyd, en nie net as ek daar by julle is nie.
19. Ag, my kinders, totdat Christus in julle lewens vorm aanneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle.
20. Ek wens dat ek op hierdie oomblik by julle kan wees en op ’n ander trant met julle kan praat, want ek is regtig bekommerd oor julle.
21. Sê vir my, julle wat so graag aan die wet onderwerp wil wees: Hoor julle nie wat die wet sê nie?
22. Daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by ’n vrou wat ’n slaaf was en een by ’n vrou wat vry was.
23. Die seun van die slavin het sy geboorte te danke aan die mens se eie planne, en die seun van die vrou wat vry was, aan God se belofte.
24. Hierdie dinge moet figuurlik verstaan word. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Hagar staan vir die verbond wat by die Sinaiberg gesluit is. Dié verbond bring slawerny voort.
25. Hagar, wat vir die Sinaiberg in Arabië staan, is ook ’n beeld vir die huidige Jerusalem. Jerusalem en haar inwoners leef in slawerny.
26. Maar die hemelse Jerusalem is vry en sý is ons moeder!
27. Daar staan geskryf: “Wees baie bly, onvrugbare vrou,jy wat nie kinders kon hê nie!Jubel en juig, jy wat nooit ma kon word nie. Want die vrou wat deur haar man verlaat is, het meer kinders as die vrouwie se man by haar is.”
28. Broers en susters, soos Isak is julle beloftekinders.
29. Maar, soos destyds, toe die seun wat sy geboorte aan die mens se planne te danke het, die seun wat sy geboorte aan die Gees te danke het, vervolg het, so is dit ook vandag die geval.
30. Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die vrou wat vry is, mag nie saam met die seun van die slavin erf nie.”
31. Met ander woorde, broers en susters, ons is nie kinders van ’n slavin nie, maar van die vrou wat vry is.